Tuesday 23 June 2015

GESOND: 10 riglyne vir ‘n gesonde lae stysel-leefstyl

Kweek ‘n gesonde leefstyl met dié dieet wat slegte stysel uitsny om plek te maak vir meer voedsame groente en vrugte.



Daar is al vir langer as ‘n dekade ‘n groeiende neiging tot die nastreef van ‘n gesonder leefstyl, tog is daar maar min van ons wat dit handhaaf. Lees hier hoe jy ‘n gesonde leefstyldieet kan begin, wat op jou gesondheid fokus.


1.    Bly weg van verfynde kos

Die mikpunt van die eetplan is om jou weg te laat bly van verfynde meel en suiker – dus witmeel en witsuiker – en geprosesseerde kos. Dis nie gesond nie.
As jy vir net ‘n oomblik aan witmeel en witsuiker dink, sal jy besef hoekom. In die vervaardiging daarvan word al die “goeie” dele verwyder. In die geval van witmeel, word al die voedingryke vesel verwyder, terwyl die melasse verwyder word om witsuiker te maak.
‘n Verdere ontsteltenis is dat alle bruinsuiker ook nie goed is vir jou nie, aangesien alle suiker, tydens die vervaardigingsproses, eers witsuiker gemaak word, voordat die melasse in verskillende grade bygevoeg word om die verskillende bruinsuikers te maak. In dieselfde asem let ook op dat volkoringmeel eintlik geprosesseerde witmeel is wat met semels verryk is. Geeneen van die produkte is dus nog regtig in hul “natuurlike” vorms nie.
Eintlik is dit dus ook geprosesseerde kos. Ander geprosesseerde kos, soos ready-made meals en blikkieskos bevat dikwels modified starch en ander toevoegsels, wat veroorsaak dat jy nie in beheer is van wat en hoeveel jy daarvan inkry nie.

2.Beperk proteïene


Mens moet sommer aan die begin al besef dat die brood en pasta wat jy opgee, nie deur proteïene, in die vorm van vleis en hoender, vervang word nie. Die dieet noop jou juis om meer groente en vrugte te eet.
Probeer om elke ete tot een soort proteïen te beperk. Proteïene kan in die vorm van kaas, eier, hoender, vis, seekos, beesvleis en wildvleis geneem word. Hoender moet van vel en been verwyder wees. Ander vleise moet sonder vet wees. Vermy olierige visse, soos makriel en sardiens.

3. Moenie stysel ignoreer nie


Stysel kry baie moeilikheid – maar dis nie net sleg nie. Nie net kom dit in jou groente en vrugte voor nie, die oorhoofse meerderheid van lae koolhidraat-eetplanne laat ook crackerbread, ryvita, provita en soms ryskoekies toe. Dit sal help dat jy nooit honger ly nie. Kyk ook na lyste met lae GI-kosse, wat die “beter” stysel aan jou sal uitwys.

4. Eet groente en vrugte


Soos reeds genoem kan jy op die eetplan verwag om meer groente en vrugte te eet.
Vir ‘n dieet wat gefokus is op gewigsverlies, moet jy egter ook jou vrugte tot twee ‘n dag beperk, aangesien vrugte baie suiker bevat. ‘n Vrug is heerlik vir ‘n teetyd-snack.




5. Drink genoeg water

Daar word aanbeveel dat mens 6 – 8 glase water per dag drink. Eintlik is dit vir enige gesonde leefstyl belangrik, ongeag of jy op ‘n dieet is of nie.
Bekyk net eendag na ‘n uitsonderlike warm somersdag na jou tuin. Alles hang van verleptheid – dit lyk omtrent bedroef.
Met die besef dat jou liggaam en die aarde beide om en by uit 70 % water bestaan, maak dit sin dat mens die water in jou liggaam ordentlik moet opvul.



6. ‘n Ou soetigheidjie


Vermy suiker, en gebruik eerder versoeter in jou koffie, tee en kos. Jy kan ook vrugte in jou kos gebruik om dit op ‘n meer natuurlike wyse te versoet.
Uit ‘n gewigsverlies-oogpunt sal dit ook ‘n goeie idee wees om melk uit jou koffie en tee weg te laat.
In dieselfde asem word dieetkoeldranke toegelaat – diëte laat meesal ongeveer 1 liter dieetgaskoeldrank per dag toe.

7. Gaarmaak en olie


Probeer sover as moontlik om nie olie te gebruik nie. Skaf vir jou ‘n goeie non-stick-pan aan, wat sal maak dat jy nie eens olie benodig nie. Kyk ook uit vir silikon-liners wat jy in panne en oondpanne kan sit om sodoende dan ook nie olie te gebruik nie.
Nog ‘n goeie metode om jou oliegebruik te verminder is om 5 ml met ‘n maatlepel af te meet en net dit te gebruik om jou kos in te braai. 5 ml olie kan ‘n verbasende ver pad stap! Gebruik dan water wanneer dit wil vasbrand. Gebruik verkieslik olyfolie of canola-olie, of spray ‘n cook.



8. Geur jou kos

Mense het ‘n geneigdheid om te dink dieetkos is altyd bland. Gebruik vars kruie, speserye en asyn om jou kos op te kikker. Dikwels is balsemieke asyn en basiliekruid al wat mens nodig het in ‘n roerbraai, terwyl jy ‘n geurige gereg kan voorsit deur ‘n paar speserye saam te braai.
Brei jou kennis oor Speserye uit en plant jou eie groente.
Pasop egter vir gekoopte speserymengsels. Dikwels kan mens skaars een of twee van die bestanddele herken.

9. Wees kreatief


Hou jou kos interessant, anders gaan jy beslis daarvoor moeg raak. Daar is geen rede hoekom jou slaai altyd uit dieselfde bestanddele moet bestaan nie. Gebruik vrugte in jou hoofetes om verskeidenheid te verseker. Daar is baie webwerwe op die internet wat gewy is aan lae koolhidraat-resepte.

10. Kweek goeie gewoontes


‘n Dieet kan jou dikwels soos ‘n kluisenaar laat voel, uitgesluit van die wêreld, want verleiding lê om elke hoek en draai.
Elke keer as jy eet, veral as jy uiteet, is dit ‘n keuse wat jy maak tussen gesond en ongesond.
Die idee is dus dat jy moet verstaan wat gesond is, en wat ongesond is. Gewoonlik is die uitdrukking “gesondheid uit die grond uit” ‘n goeie aanduiding, terwyl jy alles wat eers deur ‘n vervaardigingsproses moet gaan met meer agterdog moet bejeen .


VOORSPOED TOT SUKSES