Tuesday 23 June 2015

Resepte wat mans ook verstaan

OPGEDRA AAN: 

ALLE PA’S, OUPA’S, OOM’S EN ALLE MANS WAT ‘N SPESIALE PLEK IN ‘N IEMAND SE HART BESIT.



Baie goeie mans word verkeerd voorberei. Party kry die wind so van voor dat hulle soos ballonne opblaas, ander is voortdurend in die warm water. Sommige mans is altyd in die pekel, terwyl ander verkil word. Die heel ongelukkiges word met tongsous bedek. Alhoewel nie alle mans sag en smaaklik is nie, behoort die meeste verteerbaar te wees wanneer hulle só behandel word. Plaas die man in 'n bottelvol besorgdheid naby die vuur van liefde. Bedek hom met goedhartigheid, gehoorsaamheid en liefdevolle optrede. Geur hom met nederigheid. As jy soentjies en drukkies byvoeg, moet 'n goeie skootjie geheimsinnigheid en gesonde verstand ook bykom. - 



Kos wat in die buitelug gaargemaak word, hou 'n wonderlike bekoring in, en die tergende geur van vleis wat op die kole sis maak 'n mens rasend honger. Dit is seker een van Suid-Afrikaanse se nasionale tydverdryfte. Dit is wonderlik hoe dikwels mense met bitter min ervaring aan kookkuns dit regkry om die heerlikste kos oor die kole gaar te maak. Daar is geen formaliteite by 'n braaivleisvuur nie. 'n Braai is wat jy self daarvan maak. Braaivleis bly ewe lekker, of dit nou by 'n swierige braaiplek, jou eie lapa, in die tuin of op 'n eenvoudige braaitoestelletjie berei word. Wat is nou geselliger as die sorgelose saamkuier om 'n braaivleisvuur? Niks klop immers daardie besonderse rooksmakie van kos wat oor die kole gaargemaak is nie.

BRAAI WENKE :
So maak mens jou braai beter as die buurman s'n:
BEESHAAS (STEAK)

Moet nie gevriesde steak ontdooi nie. Plaas dit net so op die vlamme en sout eers wanneer dit amper klaar is.


BOEREWORS

Ryg boerewors deur 'n sosatiestok met uie tussen in. Braai die wors oor die koeler deel van jou vuur / kole. So laat jy dit stadiger kook. Moet nie die vel prik dat die vet uitkook nie. Die wors moet juis gaar kook in die vet om sodoende die smaak te behou.
Draai die wors om sodra jy kan sien die vet kook aan die binnekant. Moet nooit meer as tien minute aan 'n kant braai nie. Doop wors in water voor jy dit braai. Dit verhoed dat die wors maklik oopbraai terwyl dit gebraai word.


FILET

Laat 'n filet vir 'n paar uur in Cola Cola marineer voor jy dit braai. Braai dit oor vlamme en sorg net dat die kante seël.

GROENTE

Maak 'n sousie met gelyke hoeveelhede van balsemasyn, suiker en olyfolie en verf dit gereeld oor jou groente terwyl dit braai.

HOENDER

Kook hoender in Coke voor jy dit braai of 20 minute in water.Dit maak dit sag en smaakvol.


KRUIE

Gooi jou gunsteling kruie op die vuur vir 'n aangename reuk.

KRUISSTUK (RUMP)

Marineer jou kruisstuk (Rump) oornag in sonneblomolie en worcestersous voor jy dit vinnig weerskante seël en dan verder braai soos jy dit verkies.

LAM

Vir ekstra geur gooi jy klam takkies roosmaryn of lourierblare in jou halfuitgebrande vuur waarop jy gaan lam braai.

MIELIES

Maak 'n pasta van gemmer, rissie, olyfolie, heuning en sesamesaad en smeer oor mielies.

PIESANG

Braai piesang in die skil. Haal af sodra die skil begin swart word en sit voor met room.

PIESANGBLARE

Was 'n piesangblaar en vou 'n vis toe daarin. Stoom gaar op die braai, ± 45 minute. Probeer 'n pasta van gemmer, suurlemoensap en olyfolie op die vis.

ROOSTER

Indien jou vleis vassit op jou rooster, maak dit skoon met jou draadborsel terwyl dit nog warm is en smeer ui daaroor.

SUURLEMOENSAP

Druk vars suurlemoensap oor hoender, groente, vis of lam net voor dit van die kole afkom vir 'n pikante smaak.

TJOPS

Sprinkel suurlemoensap oor jou tjops voor jy dit braai.Dit maak dit sag.Laat jou tjops oornag in Coke lê. Die vleis is dan sag en smaakvol wanneer jy dit braai. Moet nie tjops sout voor jy dit braai nie.Dit maak dit taai.

KLAAR GEBRAAIDE VLEIS

Plaas die vleis wat reeds gebraai is op 'n bed gebraaide uie. Dit verhoed dat die vleis uitdroog en dit gee die vleis ekstra geur.

VLAMME

Sit ys op die vleis indien die vlamme te hoog brand. Plaas 'n koeldrankblikkie of bierblikkie ¾ gevul met water in die middel van jou kole. Dit verhoed dat vlamme, veroorsaak deur druppende vet, buite beheer raak.



VUURAANSTEKERS

'n Alternatief tot vuuraanstekers is 'n die onderste helfte van 'n eierdoos gevul met ou kookolie. Plaas dit plat neer en bou jou vuur daarop.




No comments: