Tuesday 23 June 2015

WYSHEID OOR GEWIGSVERLIES

  Om jou lyf te verander moet jy eers ’n kopskuif maak. 6 geheime oor hoe om gemotiveerd te bly om suksesvol gewig te verloor.
MOTIVERING :
1. As mense my vra hoe hulle ook so baie gewig kan verloor, sê ek altyd hulle moet ʼn wilsbesluit neem en jy moet dit vir jouself doen. As jy nie vir jou eie gesondheid verantwoordelik kan wees nie, sal jy nooit beheer oor jou liggaam kan neem nie.
Wat jy kan doen: Raak rustig en dink na oor wat werklik jou motivering is. Maak ʼn lys van 10 baie spesifieke en persoonlike redes waarom jy gewig wil verloor. Plak die lys êrens op sodat jy daarna kan kyk wanneer jou motivering min is.
2. As jy jou doelwitte wil bereik, moet jy sorg dat jou doelwitte oor jóú gaan. Jy moet dit máák werk en dit op só ʼn manier doen dat dit vir jóú werk. As jou doelwitte nie vir jóú is nie, gaan jy nie sukses behaal nie.
Wat jy kan doen: Stel doelwitte wat vir jóú realisties is. Dit hoef dus nie te wees dat jy ʼn jaar lank op die dieet-program wil bly of twee rokgroottes wil krimp nie.
3. Hoewel baie kenners sê jy moet jouself glad nie daagliks weeg nie, is dit nou die eerte ding wat ek soggens doen. Ek weeg myself kaal, so daar is niks wat ʼn ekstra kilo of twee kan byvoeg nie. Hierdie roetine help my om my gewig wat wipplank kan ry, te beheer. As ek sien ek het gewig aangesit, al is dit ook hóé min, weet ek ten minste dat ek op daardie dag iets daaromtrent kan doen.
Wat jy kan doen: Doen net wat vir jou werk. Om daagliks te sien hoe jou gewig wipplank ry kan vir party mense ʼn negatiewe ervaring wees en ander weer motiveer. Elkeen moet doen wat vir haar die beste werk.
4.  Die enigste manier hoe jy ʼn permanente verandering kan volhou, is deur nuut te dink, doen en leef.
Wat jy kan doen: Gedragsverandering speel ʼn belangrike rol in gewigsverlies. Gaan sit elke week en dink na oor jou houding oor kos. Het jy sekere gewoontes wat jou verhoed om gewig te verloor? Indien wel, probeer dit verander. Eet jy byvoorbeeld sonder om juis daaroor te dink terwyl jy vasgenael voor die TV sit? Probeer dan volgende keer om jou tande te borsel voordat jy jouself op die rusbank tuismaak om TV te kyk.
5. Permanente gewigsverlies kom nie met die druk van ʼn skakelaar nie. Dis nie iets wat jy vir ʼn rukkie doen en dink dit gaan jou lyf vir ewig verander nie. My lewe is so besig soos kan kom, maar ek het steeds tyd gemaak om die program te volg. Jy moet só graag suksesvol wil gewig verloor dat geen berg, rivier of oseaan jou sal kan verhoed om jou doelwitte te bereik nie. As jy só gemotiveerd, passievol en toegewyd is, is daar geen manier hoe jy nié die gewig gaan afskud nie.
Wat jy kan doen: Konsewentheid en deursettingsvermoë is belangriker as perfeksie. Dít is die belangrikste les wat jy moet leer op jou pad van gewigsverlies. Diegene wat gewig verloor en dit af hou, weet dat as jy iets verkeerd eet of ʼn bietjie gewig optel, dit nie die einde van die pad is nie. Dis slegs ʼn spoedhobbel. Jy moet deurdruk en net eenvoudig weier om moed op te gee.
6.  Om myself toe te laat om oorgewig en ongesond te wees, is ʼn slegte gewoonte wat ek met plesier agterlaat. Ek het nou meer energie, stamina en motivering as ooit tevore.
Wat jy kan doen: Dis so maklik om net vas te staar in hoe moeilik en uitdagend dit is om gewig te verloor. Probeer dus eerder dink aan al die voordele en belonings wat met gewigsverlies gepaard gaan. Jy sal gou agterkom dat jy meer vertroue en energie het en boonop gelukkiger is. Let op die verskil in daaglikse takies soos om trappe te klim, hoe jou klere losser pas en hoe jy meer energie vir jou geliefdes het. Ons breine is geneig om te fokus op hoe ‘moeilik’ dit is om gewig te verloor. Dit maak dat ons nie ons slegte gewoontes kan laat vaar en verander nie. Weier eenvoudig om toe te laat dat negatiewe gedagtes jou onderkry.


2 comments:

Dream Weaver said...
This comment has been removed by the author.
Dream Weaver said...
This comment has been removed by the author.